Hoe dit alles begin het...
Wat oorspronklik soos ’n gewone dag in ’n oudhede winkel saam met my boetie se twee vierjarige kleintjies (beter bekend as die tweeling) begin het, het ons onverwags laat beland op ’n verweerde eikehoutbankie in ’n rustige hoek van die winkel. Hul beentjies was moeg en het ’n oomblik van rus gevra, maar in hul gedagtes was hulle al lankal op ’n ander avontuur weggevoer, iets baie meer opwindend as om agter die grootmense aan te loop. Dit was nie lank nie, of hulle het met groot oë ’n storie geëis om die tyd om te kry. En so het daar, op die ou bankie in Colonial Antiques, ’n betowerende avontuur vir my ontvou – en natuurlik vir die tweeling ook.
Ontmoet Lindie, Knuffeltyd Kinderstories Skrywer
Kinderboeke skryf was nooit iets wat ek gedink het ek sou aanpak nie – dit was meer soos ’n sprokiesverhaal wat een van my karakters dalk sou droom om waar te maak. Maar, nes my stories die kleintjies leer: As jy nie met jou hele hart probeer nie, hoe sal jy weet dit was nie bedoel nie? Met die ondersteuning van my man, ons vriende en familie (en ons twee kattekinders, Fudge en Flamby), het ek hierdie klein “boekwinkeltjie” oopgemaak – my eie verweerde eikehoutbankie – waar jy ’n boek kan gryp en saam met ons op 'n wonderlike avontuur kan gaan.